Een aand in ’n woonstel op Witvinger

BUITEGROEP 2019

DEUR: LILANIE DE JAGER

Lunsklip is die jaar 58 jaar oud en steeds die oudste Voortrekkerkamp, met die oudste deurlopende kursus naamlik die Buitegroep (BG). Die unieke ervaring wat matriekverkenners het om sonder tente, slaapsakke of kos deur die veld te trek, was vir party in 2019, ekstra uniek:

 

Op dag 2 is die meisies en seuns  deur 'n raaiselleidraad geskei en in verskillende windrigtings gestuur vir die aand. Die seuns het besluit om nié die kraaivliegpad te volg nie maar die tweespoorpad. Hulle het na 15km hulle bestemming by die windpomp bereik, wat sowat 5km van hul beginpunt af was. Die meisies het, soos amper elke ander BG, die kortpad saam met die kraai gekies. Hulle is toe bergop en haastig om die sakkende son van 'n hoogte by hul eindbestemming te vang. Bo-op 'n berg, vertel die GPS toe dat hulle die veel laer koppie (Grootklip) net noordoos vandaar moes bereik. "BG is nie paadjies nie, dis (GPS) punte". Hulle klouter toe af teen die 2meter kranshang en selfs al 6 gly braaf teen ‘n paar skuinstes af. Hulle het mekaar mooi moed ingepraat om die sprong te neem. Op die een lysie het die voorste meisie toe terug laatweet... Daar is nie nog 'n veilige lysie om heen te gly nie... Net 'n steilte. Af.

 

Hulle bly toe op die tweede laaste lysie wat so groot soos  twee staaltafels is (omtrent 1 x 5m met die hoeke afgesny soos 'n halfmaan). Alle moontlike roetes word ondersoek, maar geen verdere afklim of glykans bestaan sonder dat dit ver af is grond toe nie. Hulle haal toe die noodfoon uit en bel die Offisiere.

 

Vier BG Offisiere het parkeer en is toe te voet op pad met groen gloeistafies (kampleiersbevel) en die noodoffisiere is op pad per bakkie nommer twee.

 

"Bravo Golf Bravo Golf, Juliet Lima berig oor - ons is nou naby aan julle koordinaat, maar wil hoor waar julle is. Ons gaan roep, en dan roep julle terug"

"BUI-TE-GROEP - groep - groep" weergalm ons kommunikasie teen die oorkantste koppie. Nog radiogesprekke wissel.

 

“Lima Juliet: Meisies, kyk na die Suiderkruis en sê vir ons waar hy sit van julle af”, “hoe kan julle hom nie kry nie? Ek het dan eergistraand weer vir julle gewys!”

"Bravo Golf: Nig ons wéét hoe lyk die Suiderkruis, maar ons kan hom nie sien nie. Ons kan die Melkweg tot by Orion sien." So hulle sit toe teen die nóórdelike hang van die berg. Toe ons hulle stemme hoor het die twee mansoffisiere vinniger teen die skeur uitgeklouter en die dames volg.

 

Bo uitgekom begroet 6 vriendelike glimlagte ons "Naand Neef, ja dit ís mooi maar Neef moes dit in die daglig gesien het!" 6 BG meisies is toe reeds paraat onder hulle seile vir as dit koud raak. Hulle het later vertel dat daar reeds gehuil is, maar dat hulle nou weer okay is. Die offisiere soek toe afklimplek, maar dis duidelik te glad vir klim. Hier gaan toue benodig word.

"Neef De Wet, gaan klim in daai anderkantste skeur af en kyk vir vastrapplek."

Toe hy met sy stewel voel voel of die stomp veilig is vir trap, val die hele grys homp na benede. Ons kan nie by hulle uitkom nie.

 

Die situasie word geassesseer: Geen veilige afklimplek nie, toue en klimtoerusting word benodig. Besluite word geneem: dit raak donker en die reddingspoging sal teen daglig geskied. Die aand sal deurgebring word op die een by vyf meter lysie. Onder die sterre. Ses styf teenmekaar in 'n sitlê met rûe teen die skuinste. "Nag meisies".

 

Die vier offisiere is toe reeds op die lysie bo die dogters. Die kans vir afklim het verdamp met die skemerlig. Teen die skeure waar daar opgeklim is, gaan hulle beslis nie weer (veilig) kan af nie. So Buitegroep is vir die aand vir die vier offisiere ook: sonder tent, sonder slaapsak en sonder kos. Ons beleef toe ons eie BG weer met goeie geselskap, parkas en 'n waterbottelkussing. Ons het onder die sterre geslaap met 'n pragtige 'bloedmaan' opkoms en die oggend se sonsopkoms om ons wakker, nee, warm te maak.

 

Die reddingspan het met daglig opgeklim van die anderkant van die berg af. Dit na verskeie radiowisselings om weer ligging te bepaal. Toue word bo vasgemaak en die 6 dogters word een vir een in 'n harnas opgetrek met 'n katrolstelsel. Dit was duidelik (soos!) in die daglig, dat dit nie anders sou kon nie. Op getrek tot die boonste lysie, op met die skuinstes, nog op teen die twee meter muur en op oor die laaste paar meter na veiligheid. Al die offisiere en die ses BG dames, was bitter dankbaar.

 

Beslis 'n nag in die Woonstel op Witvinger wat hulle nooit sal vergeet nie.

 

 

“Saam met trane, kom vertroue en ek sal nie sê ek sal dit weer wil ervaar nie, maar dis een om te onthou en baie herinneringe saam met ‘n ongelooflike groep meisies, is op die slegste omstandighede gemaak… “ - Danica

 

“Die aand wat ons daar spandeer het was een wat ek altyd na aan my hart sal hou, vanaf die oomblik wat ons daar aangekom het tot ons weer afgeklim het. Eerstens was die uitsig onbeskryflik mooi en die proses en uitdagings van die dag en hoe om bo op die berg te kom het ons so sterk gemaak as 'n groep en die hele ervaring sal ek nooit vergeet nie. Belangrikste is wel iets wat altyd by my sal bly en dit is hoe ek die Skepping kon sien, voel en waardeer deur die aand, daar was so baie dinge wat emosioneel en geestelik vir my en die groep gebeur het wat ek nooit in woorde sal kan oordra nie. Die aand by die Woonstel op Witvinger is 'n aand wat so baie vir ons beteken en altyd 'n spesiale herhinnering wees.” - Mischke

 

“Dit was seker die bangste wat ek al ooit in my lewe was. Om myself te laat beter voel sou ek sulke een liedjie sing wat my altyd veilig laat voel. Baie dankie vir n ongelooflike kamp Nig. Ek sal dit nooit vergeet nie!” - Lena

 

 

 

lunsklipkamp@gmail.com

KOPIEREG © LUNSKLIPKAMP

 

lunsklipkamp@gmail.com

KOPIEREG © LUNSKLIPKAMP