User Tools

Site Tools


LUNSKLIP?

Wat is Lunsklip se visie?

Om Verkenners van die Voortrekkers as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene te ontwikkel met kultuur- en avontuuraktiwiteite in die natuur sodat hulle suksesvol sal wees in hulle roeping tot diens.

Hoe bereik Lunsklip dit?

12-04-2006-lukas_003.jpg Gr 11 en 12 Verkenners kamp vir 8 dae binne die Percy Fyfe natuurreservaat waar hulle leer hoe om selfbehoud toe te pas in 'n oorlewingsituasie. Dis vir baie jongmense 'n lewensveranderende ervaring waar hulle hulself beter leer ken en ervaar hoe hulle hul grense kan skuif soos hulle nie gedink het moontlik is nie. Junior Verkenners van gr 8 tot 10 doen vir 5 dae kentekens soos Natuurbewaring, Voetslaner, Kamplewe, Touwerk en Sterrekunde. Hulle is ook in die natuurreservaat waar hulle God se Skeppingsopenbaring in sy volle glorie kan ervaar.

Wees bietjie meer spesifiek. Hoe leer julle my van Selfbehoud?

Om hierdie vraag te antwoord moet ons weer verwys na die rede waarom Lunsklip gestig is in die eerste plek. Wanneer jy gaan lees oor die geskiedenis van Lunsklip sal jy sien dat die veld en die natuur 'n groot rol speel in die rede waarom Lunsklip bestaan.

Ons leer jou van Selfbehoud deur jou uit jou gewone omgewing uit te haal en dan toe te rus om jouself te handhaaf in die veld en in 'n situasie wat buite die gewone, voorspelbare en alledaagse is. Ons leer jou dan om te waardeer wat God aan jou geskenk het en ook hoe om dit op te pas. Wanneer jy dan terugkeer huistoe, kan jy beter verstaan dat groente nie in die blikkie gekweek word nie en dat 'n warm droë bed 'n voorreg is en nie 'n reg nie.

Hoe werk die Lunsklip-opleiding?

Jy ontvang uitstekende opleiding by bekwame en bedrewe volwassenes wat jou lei om te verstaan hoe die veld, die ekosisteem en God se skepping werk met 'n verskil: die soort opleiding wat jy kry is dieper en meer prakties as enige ander lesing wat jy tot op hede oor die veld of natuur gekry het. Wat meer is, jy leer wat dit beteken om die skepping te onderwerp met die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan.

Wie gaan Lunsklip toe?

Dit was altyd net Gr 11 en 12 Verkenners wat op Lunsklip gekamp het. Gr 11's doen steeds die Selfbehoud Spesialisasie maar daar is deesdae ook Spesialisasies vir gr 8 tot 10 Verkenners. Indien jy nie Selfbehoud in jou Gr 11-jaar gedoen het nie kan jy steeds die Selfbehoud Spesialisasie in jou Gr 12-jaar doen. Dit gebeur ook gereeld dat jongmense wat nie Voortrekkers is nie kom saamkamp en hulle en hulle geniet dit ook altyd baie. Hulle ouers moet net die nodige Voortrekkervrywaringsvorm voltooi. Indien jy op Lunsklip wil kamp moet jy bereid wees om bietjie uit jou gemaksone te klim. Dis ‘n kamp wat gedryf word deur waardes, integriteit, dissipline en uitdagings. Die volwassenes stel die voorbeeld en verwag van die jeuglede om dit te volg.

Enige iemand is welkom op Lunsklip. Oor die jare het ons wel gesien dat nie alle jongmense van Lunsklip hou nie asook dat jongmense met die volgende behoeftes gewoonlik díe is wat die beste op die kamp inpas. Dit is nie uitsluitlike behoeftes nie maar beskryf die meeste jongmense se behoeftes wat by die Lunsklipfamilie aansluit:

  • 'n Sterk wil om doelgedrewe te werk;
  • 'n Sterk wil aan uitdaging en om nugter uitdagings die hoof te bied;
  • 'n Sterk wil om jou identiteit as Afrikaner te ondersoek;
  • 'n Sterk behoefte om jouself te leer ken en beter te verstaan;
  • 'n Sterk behoefte aan kwaliteit verhoudinge met mense;
  • 'n Sterk behoefte om God beter te leer ken;
  • 'n Behoefte om 'n sin vir humor uit te leef – skerp, droog, vinnig of stadig:
  • 'n Behoefte aan orde en integriteit;
  • 'n Behoefte om 'n meetbare verskil te maak in die wêreld (lees: om dinge gedoen te kry);
  • 'n Behoefte om jou beste te gee of om uit te vind wat jou beste is;
  • 'n Behoefte om ander mense te leer ken wat ook hierdie behoeftes het.

Ek het al gehoor van Keurkamp. Wat is dit?

In Gr. 11 kom kamp jy op Lunsklip Selfbehoudkamp as 'n Verkenner wat die Selfbehoud Spesialisasie doen. As jy die Selfbehoud Spesialisasie suksesvol afgehandel het word jy persoonlik uitgenooi na die Keurkamp. Dit is 'n kamp wat aan die einde van jou Gr 11-jaar plaasvind en waar Verkenners aan ‘n strawwe keuringsproses onderwerp word ten einde in Gr 12 terug te keer Lunsklip toe as Keurgroeplid in die alombekende Buitegroep. Daar is ook 'n uitnodigingsgroep, Binnekring, vir Selfbehouders wat eerder in die kamp wil bly en van die kombuis se lekker kos eet. Hulle help met die aandprogramme, neem foto's, stel die kampblad saam en dra die kampkultuur oor aan die Selfbehouders. Na jou Gr 12-jaar kan jy die volgende jaar as volwassene weer terugkom Lunsklip toe vir die veldwerkkursus vir volwassenes, wat ons Veldwerk Sterretjie noem. Daarna kan jy as volwaardige lid van die Lunsklipfamilie ‘n groepoffisier word en kursus aanbied.

Hoekom is Keurkamp so straf?

1.jpg Keurkamp is ‘n toets om te bepaal of jy in die Buitegroep kan funskioneer volgens die vereistes van daardie groep. Jy word daar in situasies geplaas wat jy vermoëns om byvoorbeeld onder druk te funksioneer, tot die uiterste beproef. Integriteit, deursettingsvermoë en groepsamewerking is baie belangrik.


Page Tools